Johann Minnaar

Johann Minnaar

Groenvlei
Graaff-Reinet

Johann werk met 2 000 Merino-ooie, waarvan 50% stoetdiere is.

“Ek het met Merino’s grootgeword aangesien my pa en albei my oupas met hulle geboer het,” sê mnr. Johann Minnaar, wat op die plaas Groenvlei in die distrik Graaff-Reinet-boer.

“Ek het goeie herinneringe aan hoe ek as kind by die wolafleweringspunt gesit het saam met my oupa, Abie van Heerden, wat die besturende direkteur van BSB (nou BKB) was. Hy het die boere verwelkom en oor ’n koppie koffie met hulle ’n geselsie aangeknoop.

“Ek is baie bly dat my seun Johnny dieselfde passie vir Merino’s het en hy gaan ons oorspronklike plaas, Slangfontein, in die distrik Loxton oorneem. Geen ander skaapras behalwe Merino’s is in die afgelope 200 jaar op die plaas gebruik nie. Dié plaas sal mettertyd nog 2 000 ooie tot Phoenix Merinos se genepoel toevoeg.”

Daar is twee lamtye op Minnaar se plaas: Die helfte van sy kudde lam in April/Mei en die ander helfte in Oktober/November. Hy laat sy ooie op 16 maande paar en behaal ’n lampersentasie van tot 130 in ’n goeie seisoen. Sy stoetooie gaan na aangeplante weiding nadat hulle in die veld gelam het, terwyl sy kuddelammers in die veld grootword.

Die stoetooie bly op aangeplante weiding tot hul lammers drie weke tot ’n maand oud is. Minnaar het 100 ha lusern onder besproeiing wat hy vir sy vee gebruik, en hy verkoop ook daarvan.

Hy boer ook met 100 Tuli-tipe koeie en sy vrou, Lynne, maak jaarliks 300 Holsteinkalwers groot. Sy het dit in ’n suksesvolle besigheid ontwikkel en verkoop die speenkalwers.